Skip to Content

Ons dank God altyd oor julle

8 Oktober 2026


1 Tessalonisense 1:2-3 Ons dank God altyd oor julle almal as ons aan julle dink in ons gebede en onophoudelik in gedagte hou die werk van julle geloof en die arbeid van julle liefde en die lydsaamheid van julle hoop op onse Here Jesus Christus, voor onse God en Vader.


Toe ek weer lees wat Paulus en sy vriende gehoor het van die gelowiges in Thessalonika, het ek gewonder oor jou en my, en of mense so praat en so getuig van ons lewens?


Paulus hul het van 3 dinge getuig wat hulle by ander mense gehoor het oor hoe hulle van die gelowiges in Thessalonika gepraat het.


Hiers die 3 dinge waaroor mense destyds gepraat het as hulle gepraat het oor die gelowiges in Thesaalonika:

1. Die uitwerking van hulle geloof,

2. hulle dade van liefde, en

3. hoe hulle geduldig volhard het in die hoop van Christus.


Wow, dis waaroor die mense gepraat het as hulle van die gelowiges in Thessalonika gepraat het.  Hulle geloof was in hulle daaglikse dade gesien 👏.


In al hul dade kon mens sien hoe dit met liefde gebeur, en dat wat hulle gedoen het, belaai was met Goddelike liefde as die bron en rede vir wat hulle gedoen het.


Ah en dan was daar 'n merkbare hoop, 'n lewende hoop in Christus, n hoop waaraan hul geduldig vasgehou het met die wete dat om in Christus te glo jou nie net dra deur hierdie lewe nie, maar dat die ewige lewe op ons wag!


Sjo, is dit die dinge waaroor ander mense praat wanneer hulle oor ons praat?


Sien ander mense ons geloof in Christus weerspieël in ons dade?


Ervaar hulle Sy liefde wanneer ons dinge doen?


Sien hulle ons hoop onwrikbaar in Christus?


Mag ons so leef soos die gelowiges in Thessalonika destyds sodat die wêreld kan sien wat Jesus in ons lewens gedoen het, en mag hulle Hom deur ons dade, ons woorde, ons doen en late asook ons volharding in Hom ontmoet.


Amen

Share this post
Tags​
Archive
Selah!
7 October 2026