Hebreërs 4:15-16 - Want ons het nie 'n Hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar Een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde. Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word.
Eks nie altyd seker of ons werklik die volheid begryp van wie Jesus is en alles wat ons in Hom en deur Hom het nie?
Ek meen, dink gou net 'n oomblik aan al die Hoëpriesters van wie ons in die Skrif lees voor Hom, want al was hulle die verteenwoordigers van die volk teenoor God, moes hulle gedurig dag vir dag offers vir mense se sondes bring, en toe kom Jesus, die perfekte offer, en Hy sterf, word begrawe, staan op uit die dood en vaar op na die hoogte en is steeds ons ewige Hoë Priester!
Al kon meeste van die priesters onder die Ou Verbond vereenselwig met van die volk se stryde en versoekings, was hulle soos ons almal, nie in staat om in alle areas en alle gevoelens en alle dinge waardeur mense gaan, saam te voel nie.
Jy en ek mag dalk sommige van dieselfde uitdagings en probleme en versoekings beleef en dieselfde sondes in die lewe doen as ander, maar tog kan niemand van ons, selfs in ons beste pogins en ervaringe, 'n perfekte verteenwoordiger wees van hoe om te oorwin of wat om te doen om deur 'n situasie te kom of daarvan ontslae te raak nie.
Dit is een van die redes waarom die meeste mense reageer met: "Niemand weet regtig waardeur ek gaan nie."
Maar Jesus weet, en Hy weet presies waardeur ons gaan, ja elke versoeking wat ons in die gesig staar, het Hy verdra en het perfekte medelye met al ons swakhede!
Die Skrif sê dat Jesus in alle opsigte versoek is, dus al die dinge wat jy en ek in die gesig staar, alles wat die mensdom in die gesig gestaar het en steeds sal beleef tot Sy koms, en nogtans was Hy sonder sonde.
Nie jy, of ek, of enigiemand anders is in alle opsigte van die lewe versoek nie, en verseker nie sonder sonde nie, behalwe Christus, en Hy is jou Hoë Priester vir ewig!
Jesus weet nie net wat ons kwaad, depressief of hopeloos laat voel nie, Hy het ook al die versoekings van die hele mensdom verdra.
Die vraag is, word ons in geloof beweeg deur Sy volmaakte Heiligheid?
Dis wonderlik hoe dikwels ons simpatie en hulp soek by die wat ons dink dalk verstaan waardeur ons gaan omdat hulle soortgelyke omstandighede gehad het, maar moenie versuim om na die enigste Een te gaan wat werklik elke traan, elke bekommernis, elke hartseer, elke teleurstelling ken, elke versoeking van die hele mensdom in die gesig gestaar het en dit sonder sonde deurgegaan het nie.
Luister mooi wat die teks sê: Jesus ken al ons swakhede, en Hy het medelye met ons!
Nee Hy oordeel nie ons swakhede nie, Hy het medelye met al ons swakhede.
En dis hoekom ons deur Hom, as ons Hoëpriester, versekerd kan wees, Hy dien as 'n geldige en kosbare verteenwoordiger van ons verlossing en nuwe natuur as regverdiges by die Vader, en Hy het dit vir ons almal moontlik gemaak om met vrymoedigheid na die troon van genade te gaan SODAT ONS barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word (Heb 4:16)!
Moenie in jou swakheid en stryd nalaat om deur Christus God se troon te nader nie, deur te dink Hy sal nie verstaan nie, onthou, Hy is ons Hoëpriester, Hy ken ons swakhede en Hy het medelye met alles waarin ons versoek word en waardeur ons gaan.
Ons het nie professionele mense nodig om met ons saam te voel nie, ons het Jesus nodig, want deur Hom kan jy en ek met vrymoedigheid na die troon van genade nader, nie 'n troon van skaamte nie, nie 'n troon van oordeel nie, nie 'n troon van verdienste nie, maar genade, o Sy wonderbare genade, sodat ons deur Jesus hulp kan vind in ons tyd van nood.
Amen