Psalm 37:25-26 Ek was jonk, ook het ek oud geword, maar nooit het ek die regverdige verlate gesien, of dat sy nageslag brood soek nie. Die hele dag ontferm hy hom en leen uit, en sy nageslag is 'n seën.
In Psalm 37 het Dawid die Hebreeuse alfabet gebruik om elke letter te omskep in n werkwoord, sodat elke sin en gedagte sou begin met die letters van die alfabet deur te getuig van jare se wandel met die Here.
Interessant, Verse 25 en 26 begin met die Hebreeuse letter נ (Nun), wat 'n ryke dubbele simboliese betekenis het: נ (Nun) aan die begin van 'n woord dui op nederigheid voor God, iemand wie buig voor God, terwyl dieselle letter aan die einde van 'n woord ן (Nun) opregtheid vertoon, iemand wie regop geregverdig voor God staan.
Dawid het dus terug gekyk vanaf sy dae as jong skaapwagter en dienskneg van die Here, tot en met sy huidige Koningskap en toe die volgende gevolgtrekking gemaak: God verlaat nie die regverdige nie.
Dawid wou hê ons moes God se getrouheid aanskou, en besef dat elkeen wie voor Hom buig ook altyd regop sal staan voor God en leef vanuit Sy getrouheid. Dawid gebruik sy eie lewe en getuig dat God die regverdige nooit in tye van benoudheid sal verlaat of in die steek laat nie, maar steeds aan ons voorsien wat nodig is.
Dit beteken egter nie dat ons immuun sal wees teen pyn en lyding nie, vra maar vir Dawid, maar dat die regverdige altyd op die Here kan vertrou.
Deur die letter Nun herinner Dawid ons dat elkeen wie buig voor die Here regop sal staan en leef vanuit God se getrouheid en barmhartigheid. Al moes Dawid menige kere deur swaarkry en onreg van mense deur moeilike tye gaan, kon hy op die Here vertrou wie vir die regverdige sorg.
In Matteus 6 herinner Jesus ons oor en oor om ons nie te bekommer oor wat ons sal eet of drink of aantrek nie, want ons Vader in die hemel weet wat ons benodig, maar dat ons allereers die koninkryk van God moet soek en Sy geregtigheid, en dat al hierdie dinge in ons lewens bygevoeg sal word.
Wat 'n voorreg om te weet dat elkeen wie in Christus Jesus glo, word die geregtigheid van God in Hom genoem (2 Kor 5:21).
Mag Dawid se herinnering en gebruik van die Hebreeuse woord Nun, jou herinner om voor Christus buig, met die wete dat jy altyd in Hom as regverdige kan staan agv sy seën.
Amen