20 Februarie 2026
Markus 14:50-52
Toe het almal Hom verlaat en gevlug. En 'n sekere jongman met 'n linnedoek om sy naakte lyf het Hom gevolg; en die jongmanne het hom gegryp; maar hy het die linnedoek laat staan en naak van hulle weggevlug.
Ek vind dit so interesant dat mense en geleerde Teoloë tot vandag toe nog probeer uitwerk wie hierdie dissipel moes wees wat losgeruk het en naak weggehardloop het oomblikke na Jesus se inhegtenisname.Die ding is, niemand weet nie, en die Skrif maak ook nie aan ons bekend wie dit was nie.Wat saak maak is dat Markus verduidelik dat al die dissipels vir Jesus verlaat en gevlug het daai aand en dat daar wel een van hulle later naak weggehardloop het toe hulle hom ook wou gryp toe hy hulle volg.
Maar wie dit was is minder belangrik, wat egter belangrik is, is elke ander keer waar die Griekse woord σινδόνα (sindona) in die Nuwe Testament gebruik word, word daar verwys na linne, en daai linne verwys na die linne waarin Jesus toegedraai was toe hulle Hom in die graf neergelê het na Sy kruisdood.
Markus 15:46-47 beskrywe dit so mooi dat Josef van Arimathéa, linne gekoop het, en Hom afgehaal en in die linne toegedraai, en Hom neergelê in 'n graf wat in 'n rots uitgekap was. En hy het 'n steen teen die opening van die graf gerol. En Maria Magdalena en Maria, die moeder van Josef, het gesien waar Hy neergelê word. Dink net aan die skaamte, die vernedering en verwyt van dié dissipel en die res, en tog sou daai teleurstelling egter op die derde dag verander in blydskap, hoop en heerlikheid, want sien, op die 3de dag het daar weer linnedoeke agterbly wat hierdie keer getuig het van 'n heel ander storie!
Jesus se linnekleed het nie getuig van iemand wat weggehardloop het in ontrou en leë beloftes vol sonde nie, maar Sy linnekleed het getuig getrouheid, asook die belofte van Sy werk in ons, sodat ons nou deur geloof in Hom in n nuwe lewe beklee kan word met Sy heerlikheid!Nie een Evangelie of Nuwe Testamentiese dokument maak daai dissipel wat naak weggehardloop het bekend nie, want sien, sy storie en sy linnekleed as bewysstuk is lig-gewig teenoor die bewysstukke van Jesus se linnedoeke in die leë graf en ons nuwe storie!
Die les wat ons egter kan leer vanuit hierdie dissipel se lewe is juis: Kom ons kyk eerder na die stel linne wat in die graf van Christus agtergebly het en verbind ons deur geloof aan Hom wie al ons sonde en skaamte en vernedering op Hom geneem het, en ons bekeer ons na Hom en hardloop ná Hom wie opgestaan het uit die dood en ons n nuwe lewe kom skenk het en ons beklee in Sy heerlikheid! Deur te kyk na die getuienis van Jesus se linne wat agtergebly het in die graf na Sy opstanding, is groter en kragtiger as om te kyk na die linne wat ons herinner aan die pogings om weg te hardloop van ons skande van sonde en verleentheid.
Prys onse Here Jesus dat deur Sy toedoen ons nie meer naak weghardloop in skaamte van God af weg nie, maar in geloof na Hom toe kan hardloop beklee in Sy heerlikheid!
Amen